Die Middelman

1.7.2024 | Donne Europee, Donne Europee others

 

Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Lukas 23:34

Jesus staan as middelman tussen ons en die Vader. Hy tree vir ons in. Hy is die vredemaker tussen ons en God.

Soms het ek al gedink dat ek nie kan bid: “Vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Na my vleeslike mening weet hulle presies wat hulle doen en voel ek daar moet reg geskied. Maar, wanneer ek terugdink oor my lewe heen, sien ek hoe dikwels hierdie gebed van Jesus van toepassing was op my. Ken jy daardie ding van jy weet, maar later besef jy tog dat jy nie regtig geweet het nie. Jy het nie besef wat jou woorde en aksies aan Jesus gedoen het nie. Dat Hy vir my sonde aan die kruis moes sterf. Met Sy laaste druppel bloed moes Hy betaal om my los te koop uit my sonde. Nou, wat dan nou van daardie mens wie ek moet vergewe? Ek kan mos nie anders as om my Here se voorbeeld te volg en te bid: “Vader, vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie.” Jesus is die middelman tussen my en die Heilige God. Sal ek dan nie ook die middelman wees tussen die sondaar wie my te na kom en die Heilige God nie?

Ons lees in Jesaja 53:12 van ‘n baie belangrike ding wat Jesus gedoen het, nl. “… Hy (het) die sondes van baie op Hom geneem en vir oortreders gebid”.

Hy is ons “intercessor”, ons voorspraak. Dit is presies wat Jesus Christus vir ons op hierdie oomblik doen in die hemel. Wees verseker, Jesus is besig om vir jou in te tree in die Hemel! Ongelooflike gedagte! Hy tree vir my in. My naam word genoem in die Hemel! Hy het my lief en soek my heil! Moet dit nie ook ons gesindheid wees teenoor ander mense nie?

 

Jy het seker al gehoor van die Evangelis, Angus Buchan, wie die gewilde boek geskryf het: “Faith like Potatoes”. Hy beskou voorbidding as van kardinale belang en hy neem geen uitnodiging in die wêreld aan om te gaan preek indien daar nie ‘n groep voorbidders is wat voorbidding doen in die voorafgaande weke nie. Hy sê dis ‘n mors van tyd as gemeentes dienste reël en daar is nie ‘n groep wat voorbidding doen nie.  Sy vrou is self iemand wie ‘n toegewyde voorbidder is.  Hy vertel die verhaal van ‘n keer wat hy en sy span in Tanzania was om die Evangelie aan ‘n onbereikte groep mense te verkondig. Daar was baie Muslims by ‘n spesifieke byeenkoms. Angus het met al sy krag die Evangelie verkondig. Dit was ‘n moeilike diens, maar hulle kon aanvoel die Here is met hulle.

Toe kom ‘n jong Muslim na die platvorm aan gehardloop, ruk sy wit muslim hoedjie af, gooi dit neer op die platvorm met die woorde: “Van vandag af dien ek Jesus Christus as my Here en redder.”

Die Here het gewerk! Sonder dat hulle geweet het, was sy vrou en ‘n paar dames juis daardie tyd besig om vir hulle in te tree voor die troon van God.

En ek en jy? Wat van ons? Kan ons in die gaping staan vir ander? Laat ons nooit die belangrikheid van voorbidding vergeet nie en onsself daaraan toewy.

Vandag wil ek by jou kom pleit en jou aanmoedig om in te tree vir jou geliefdes. Staan in die gaping vir hulle totdat Jesus hulle deurbring.

Liewe Jesus, baie dankie dat U ons Middelman en beste “Intercessor” is. Help my om ook ‘n middelman te wees vir andere wie U nodig het. Amen

 

Andra Botha