Dit is volbring

22.7.2024 | Donne Europee, Donne Europee others

 

In Johannes 19:28 en 30 lees ons: Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”

Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!”  Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Gedurende die paastyd dink ons na oor die gebeure rondom die kruisdood van ons Here Jesus.  Hier vertel Johannes, sover ons weet die enigste dissipel wat naby die kruis was, hoe Jesus gesterf het.

Jesus se laaste woorde  laat die vraag in ons gemoed:  Waarna verwys Hy?  Wat was op daardie tydstip volkome afgehandel?

Die Griekse woord wat Johannes hier gebruik (tetelestai) beteken “Vir eens en altyd / vir tyd en ewigheid afgehandel en afgesluit”.

Ons merk op dat Jesus altyd bewus was van die doel van sy koms na die aarde.  Voor sy geboorte reeds het die engel aan Josef gesê: “… jy moet hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes red.”

Toe Jesus na die Jordaan kom om gedoop te word, sê Johannes spontaan: “Kyk, dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” (Joh. 1:29)

Kort voor sy dood sê Jesus aan sy dissipels: “Ek het gekom om vuur op die aarde te bring en Ek wens dat my taak al afgehandel was!  Daar lê ‘n vreeslike doop vir My voor, en Ek is onder ‘n swaar las totdat dit volvoer is.” (Luk. 12:49, 50)

In 1 Pet. 1:18-20 lees ons: Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het.  En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie.  Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ‘n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.  God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem.

Dit is dan waarvan Jesus praat as Hy sê: “Dit is nou afgehandel.”  Hy het die sonde van alle mense op Hom geneem, was van God afgeskei deur die skuld van ons sonde, en gaan nou sy menslike lewe vrywillig neerlê sodat sy bloed hierdie skeidsmuur tussen God en mens kan verwyder – eens en vir altyd.

Paulus beskryf dit so:  Deur wat Christus gedoen het, het God ons uitgekies.  Omdat Hy ons liefhet, het Hy ons, al voor die wêreld gemaak is, uitgekies om Syne te wees en onberispelik in liefde voor sy aangesig te lewe.  Deur wat Christus gedoen het, het God vooraf besluit om ons as sy kinders aan te neem.  (Ef. 1:4, 5)

God het dit goedgedink om met sy volle Goddelikheid in die Seun te woon, en om deur Hom alles met Homself te versoen.  Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy vrede gemaak.  Ja, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. (Kol.1:19, 20)

In Openbaring 13:8 word Jesus genoem “the Lamb that was slain from the creation of the world”.

Hoe wonderlik om te weet ons verlossing was uitgewerk in die hemel nog voor die skepping van die wêreld, voordat die eerste mens geleef het.  God se liefde vir ons het ons bestem om sy kinders te wees ten spyte van die vyand se haat.  Ons moet dit net aangryp en daaraan vashou.  Ons kan vry in sy teenwoordigheid leef.  Die probleem van sonde en skuld is al voor die skepping afgehandel.

In Paulus se brief aan Titus en in Openbaring sien ons die wonderlike uitkoms van Jesus se afgehandelde verlossingsdaad.  “Hy (Jesus Christus) het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.”

“Hierna het ek gekyk, en werklikwaar – daar was ‘n reuse skare mense wat niemand eers kon tel nie.  Hulle het gekom uit elke nasie, stam, volk en taalgroep, en het voor die troon en voor die Lam gaan staan.  Hulle het wit klere aangehad, met palmtakke in hulle hande.  Met ‘n kragtige stem het hulle uitgeroep:  ‘Ons verlossing is te danke aan God wat op die troon sit en aan die Lam!’” (Op. 7:9,10)

“Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ‘n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. … Toe sing hulle (24 ouderlinge in die hemel) ‘n nuwe lied met dié woorde: ‘U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.” (Op. 5:6, 9)

Elzeth Malherbe